What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Waar was God?

My oupa

Dit was ‘n herfsdag soos enige ander toe ek vir die laaste keer op my knieë gegaan het om vir God te bid om my oupa te genees. Hy was vir lank in die hospitaal en ek was nie reg om totsiens te sê nie. Net ‘n paar maande vroeër het hy nog vir my vertel dat as hy eendag ‘gaan’ (dit was sy woorde), dat ek sy Hi-Fi klanksisteem moes erf. Dit was vir my ʼn vreemde idee. Ek het geglo my oupa is nog okay, maar ek dink hy het dag na dag net swakker begin voel.

Dit was in my Graad elf jaar. Dit was vir my moeilik om te aanvaar dat my oupa net weg is. Ek sê ‘weg’, maar ek het geglo hy was by God. Die ding wat dit die moeilikste gemaak het, was dat ek hoeveel keer gebid het dat God sou kom en my oupa gesond sou maak, maar dit het nooit gebeur nie. Wat doen ons as dit voel asof God nie luister na ons gebede nie?

Luister God ooit?

Ek dink dit voel vir ons baie asof God nie luister nie wanneer ons vir goeie dinge bid en dit gebeur nie. Dit voel asof God ver weg is as ons gebede onbeantwoord bly. Ons word keer op keer wel herinner dat God nie vêr is nie:

Almal wat U ken, vertrou op U. U laat mense wat U soek en van U afhanklik is, nooit in die steek nie.

Psalm 19:11

As ons gebede nie beantwoord word nie voel dit soms asof God ons in die steek laat, maar ons word eerder in die steek gelaat deur ons verwagtinge. Ons bid gereeld met ‘n verwagting dat God ons gebede gaan antwoord op ons manier. Maar God se wil is altyd groter en beter as ons verwagtinge.

Wat gebeur wanneer ons bid?

Ons moet aanhou bid. Iets amazing gebeur wanneer ons bid – ons maak ons verhouding met God sterker. Net soos wanneer ons saam met ‘n vriend of vriendin by hulle huis kuier of saam mall toe gaan, hoe meer tyd ons met God deurbring, hoe beter gaan ons Hom leer ken. En hoe beter ons vir God ken, hoe meer gaan ons hart ook draai na die dinge wat vir Hom belangrik is.

Vertrou steeds op God

Ek kyk nou terug na die tyd toe ek vir my oupa gebid het. Al het God nie my gebede geantwoord op my manier nie, het ek wel geleer om op God te vertrou. My oupa was oud en ongelukkig was sy dood maar ‘n resultaat daarvan. My gebede het toe ook begin verander. My gebede het begin weergalm van dankbaarheid oor wat ek by my oupa kon leer. Dit het gegaan oor my familie en dat God ons sou troos in die tyd. En daardie gebede het God beantwoord.

God luister altyd.