What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Waar vind ons ons vreugde?

Ek was onlangs op ‘n uitreik gewees na Zambië. Soms dink ons aan Afrika as hierdie plek vêr weg van waar ons is. Tog vergeet ons soms as Suid-Afrikaners/Namibiëers dat ons net soveel deel van Afrika is as die res. Hierdie is ons huis en ons woning – die plek waar God ons geroep het om hom te verteenwoordig.

Dis ‘n jammerte dat ek al die pad Zambië toe moes gaan om te sien en te voel hoe goed God is vir die mense van Afrika. Ons het meeste van ons tyd spandeer by ‘n plaaslike skool met net een gebou – die gebou self was eintlik ‘n kerkgebou en meeste van die klasse het buite plaasgevind. En in dit alles het nie een van die kinders ‘n duidelike gebrek gehad nie. Hulle het gespeel soos enige ander kind wat ek al teëgekom het. Hulle het nie selfone en gadgets nodig gehad om pret te hê en om God te ervaar nie.

As daar een ding is waaroor God my nog my hele lewe lank uitdaag, is dit oor wat ek het en hoe ek dink oor die plek waar ek is. Ek het grootgeword in Johannesburg, waar daar so baie mense is wat jaag om nog rykdom te kry. Ek bly tans in Stellenbosch en daardie tendens het nie verander nie. Tog kyk ek na die kinders van Zambië wat bitter min het en sielsgelukkig is, en dan na tieners in stedelike gebiede van Suid-Afrika, wat alles het en ongelukkig is.

So die vraag is, aan die einde van die dag, waarin vind ons ons geluk. Ek wil glo dat ons altyd ons geluk in God vind – maar soms is ons ‘gode’ iets wat ons self gemaak het. Soms is dit iets wat net nie die werklikheid van die geluk kan volhou nie. Mense wat grootword met min kan gereeld so baie stories vertel en sulke ryk lewenservaringe hê wat baie ander mis omdat hulle altyd iets beter soek as dit wat hulle het.

Soek jy altyd na iets beter, of soek jy na dit wat God kan bied? Daar is niks beter as God nie. In stede daarvan dat ons rondspring van een ding na ‘n ander, opsoek na die ‘beste’ ding daarbuite, dalk is dit tyd dat ons terugkom na ‘n punt waar ons ons vreugde in God soek… nie in games, of menslike aanvaarding, of in dinge nie, maar in God wat vrylik gee aan elkeen soos hulle nodig het?

“Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg.”

Matteus 6:33