What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Selfbeeld: Jy is genoeg!

Is ek dan nie genoeg nie?

Dis moeilik om op te kyk en die blink kant van dinge te sien as ons gereeld voel asof ons nie genoeg is nie. Vir sommige van ons hoef ons nie eers so ‘n situasie in te dink nie. Ons ouers glo dalk ons doen nie goed genoeg op skool nie. Ons voel dat die ander mense by die skool nie goeie vriende met ons wil word nie as gevolg van dit en dat. En soms… voel ons asof ons nie eers goed genoeg is vir God nie.

Daar is goeie en ‘slegte’ nuus, maar kom ons begin met die ‘slegte’ nuus: Ons is nie vanself goed genoeg vir God nie (nou hou asseblief aan lees).

Goeie en ‘slegte’ nuus

“23Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. 24Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek.” Romeine 3:23-24

Omdat ons wêreld vol van slegte dinge en sonde is, en ons as mense so gereeld ons rug op God draai, verdien ons nie God se liefde nie. God skuld ons nie Sy liefde nie, maar Hy kies om dit in elk geval vir ons te gee. Sien God het ons lief – maak nie saak wie ons is en wat ons doen nie. Jesus is die bewys hiervan. Jesus kom aarde toe om in ons plek te staan: mense wat in die eerste plek nie vir God lief is nie. Omdat Jesus Homself met ons gelyk maak – sien God ons as goed genoeg wanneer ons aan Jesus behoort (Die groot woord hiervoor is dat ons geregverdig is). Nou dis cool!

Die groot probleem…

Maar die probleem bly staan… Jy mag dalk sê: “Ek verstaan dat God my lief het en dat as ek aan Jesus behoort God my geregverdig het, maar ander mense sien dit nie so nie”… Jy sien, God is so lief vir ons dat ons regtig ook kan lief wees vir onsself. God skep nie foute nie – Hy het sy tyd met jou geneem. Elke liewe deeltjie wat jou jou maak het Hy gevorm – in Sy beeld. Die probleem is dat ons baie keer onsself vergelyk met ander. En hulle doen dit ook met ons – hulle kyk dalk na ons en sê lelike goed, maar dit maak nie dit wat hulle sê waar nie.

Vergelyking los ons ongelukkig

Vir solank as wat ons onsself vergelyk met ander mense soos die tieners in ons skool, of toelaat dat ons onsself sien volgens hulle vergelykings, gaan ons ongelukkig wees. God het ons elkeen uniek gemaak. Dit beteken jy het ʼn wonderlike doel. Jy het jou eie unieke talente. Ja, dalk word jy nie gekies vir die A-Netbal/Rugby span nie, en dis nie lekker nie – ons wil nie daaroor jok nie, maar jy bly genoeg. Dalk is daar mense wat kyk na hoe jy lyk en dink dis nie genoeg nie, maar jy bly genoeg. Ons kan vertrou dat ons genoeg is. Ons moet eerder glo wat God van ons dink en nie wat ander mense dink nie.

Jy is genoeg!

So dalk in ʼn praktiese manier, volgende keer as jy voel jy is nie genoeg nie, dink net bietjie of dit is omdat jy jouself vergelyk met ander mense. Kyk eerder na jouself deur God se oë, want ons is deur Jesus geregverdig. Jy is genoeg!