What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Jesus is my vriend!

Onseker, verward, deurmekaar, alleen, emosioneel, maar tog opgewonde, ambisieus, lewenslustig, gelukkig, geseënd en tevrede.

Aan die begin van die jaar het ’n warboel van emosies deur my hele wese geswem. Een oomblik so en ’n volgende oomblik presies die teenoorgestelde. Ek het met ’n nuwe hoofstuk in my lewe begin. ‘n Interior Design kursus in Woodstock. Ek het my ouerhuis verlaat vir ’n koshuiskamer in Kaapstad.

Deur al die rollercoster oomblikke van emosies waardeur ek daagliks gegaan het, was ek vas oortuig, met baie vrede in my hart, dat ek presies is waar ek moet wees. God het my baie duidelik op hierdie roete geplaas. Tog onseker en ’n bietjie vreesbevang weet ek dat my lewe in Sy hande is. Ek is waar ek is oor Hy Sy hand in my paaie het. Hy bly altyd in beheer.

Ek, wat ’n baie huisvas mens is, moes my huis verlaat en stoksielalleen in ’n koshuiskamer in die middel van die stad gaan bly. My opgewondenheid, impulsiewe oomblikke en die vooruitsig van die lewe wat voor my lê, het my onsekerhede op daardie stadium oorheers. Dis wanneer die gange stil is en etenstyd verby is dat die stilte so in my ore skree. Ek voel alleen. ‘n Woord wat se definisie eintlik afwesig was vir my tot dusver. Dis in hierdie oomblikke van stilte wat ek so alleen voel. Die trane kriewel op en stroom oor my wange. Dis in daardie oomblikke wat ek besef dat ek nie alleen is nie. Dat ek eintlik nooit was nie. My God, Pappa en Vader wag met ope arms om Sy dogter met haar trane en alleenheid te kom toevou.

Dis in hierdie alleen en rooi-gehuilde-oë oomblikke wanneer ek weer die stof op my Bybel afstof. Ek het nog altyd ‘n verhouding met die Here gehad en Hy was van baie kleins af deel van my alledaaglikse lewe. Soos julle weet, life happens, en mens verloor té maklik en té vinnig die quality time met God. Eintlik was my prioriteite net nie agtermekaar nie. Op daai oomblik toe ek weer my Bybel afstof, voel ek dadelik soos die seun wat weer terugkeer na sy pa wat hom met ope arms terug verwelkom. God sal keer op keer Sy arms oopgooi vir ons, maak nie saak hoe lanklaas ons met Hom gepraat het nie, wat ons gedoen het of wat ons nie gedoen het nie. Hy is werklik ‘n good good Father, and we are loved by Him, soos die liedjie gaan.

Toe ek weer tyd met Sy woord deurbring, kom ek agter hoe teenwoordig Hy is. Ek kry eintlik dan skaam om te dink hoe alleen ek gevoel het, want Hy was nog altyd maar net daar. In ons alleen, onseker, wanhopige, deurmekaar en onseker tye is Hy altyd daar. Hy wag met ope arms sodat ons weer kan terugkeer na Hom. My verhouding met Jesus Christus het toe weer begin. Hy het my uit my alleen, stil, en donker kamer kom haal. Hy het my op Sy skouers getel en my gedra. Hy het werklik my beste vriend geword.