What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Godgeskape: Maar ek voel so lelik?

Enige iemand wat al ooit voor ‘n spieël gestaan het en baie fyn na hulle voorkoms gekyk het sou al in hulself iets raaksien wat vir hulle (al is dit in ‘n klein manier) pla. Ons kyk in die spieël en sien ʼn puisie raak en dit kry ons gedagtes aan die roer. Ons dink aan al die mense wat mooier lyk, wat nog nooit ʼn puisie in hulle lewe gehad het nie (net so tussen hakkies – letterlik – daai mense bestaan nie) en dink ons is lelik.

Om lelik te voel is ʼn negatiewe emosie, dit sê “Die manier wat ek lyk is nie hoe ek wens ek kon lyk nie”. Is daar enige manier wat ons hierdie negatiewe emosie kan neem en omdraai in iets wat vir ons wys net hoe lief God vir ons is? Hierdie week in ons padkos-stukkies gaan ons kyk na wat dit beteken om God-geskape te wees.

Die idee van hierdie kom direk van die eerste boek wat ons vind in die Bybel. Genesis 1:27 sê:

“God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep.”

Jy sien, God het jou eerstens gevorm en nie net het Hy jou gemaak nie, maar hy het jou perfek gemaak nes jy is. Selfs wanneer ons nie die positiewe in onsself raaksien nie, sien God wel die positiewe raak. Hy kyk nie na hoe ons aan die buitekant lyk nie. Hy tel nie ʼn kopie van die nuutste tydskrif op en dink almal moet voorbladmateriaal wees nie. En as jy al ooit gekyk het hoe hulle die voorbladmodelle met effects dokter, kom jy agter hulle is maar net so ‘imperfek’ as ek en jy.

Maar hulle, en jy, is nie imperfek nie. Jy is in God se beeld geskep. Wat beteken dat jy pragtig en volmaak geskape is volgens Sy beeld. In sy oë is jy ongelooflik awesome en fantasties. Dalk moet ons leer om positief van onsself te praat. En meer en meer te begin kyk na onsself in die manier wat God na ons kyk. Ons sal gelukkiger wees en omdat ons weet aan wie ons behoort, kan ons met vertroue sê “Ek is pragtig/aantreklik omdat ek eerstens, voor ek enigiets anders oorweeg, Godgeskape is”.