What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Woorde het krag! Laat jou woorde wys dat jy vir Jesus lief het.

Jakobus 1:26 

As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos.

Ek weet dat ek nie altyd die beste woorde uit my mond laat kom nie, so wanneer ek die vers lees, is dit asof iemand my so teen die bors gryp, teen ‘n muur vasdruk en sê: Jou godsdiens is waardeloos. Dit is nie die lekkerste woorde om te hoor nie.

Uit elkeen van ons monde het daar al ‘n lelike woord of sin gekom. Ons vloek, skel en vertel leuens. Soms gebeur dit sonder dat ons dit agterkom en ander kere is dit met opset. Of ons dit op daardie stadium bedoel het of nie, dit maak nie saak nie, want jy kan dit wat jy gesê het, nie terugtrek nie.

In Graad 1 het ons juffrou vir ons ‘n prentjie op ‘n papier laat teken. Na die tyd het sy gesê ons moet dit opfrommel en weer probeer kry soos wat dit aan die begin was. Niemand kon dit doen nie. Soos die papier wat opgefrommel is, kan ons nie ons woorde weer terugtrek nie.

Daarom moet ons ‘n wag voor ons mond sit om te keer dat daar woorde uitkom waaroor ons later sal spyt wees. Ons kan sê dat ons ‘n Christen is, maar as ons woorde en dade nie daarmee ooreenstem nie, is dit waardeloos.

Woorde het krag! Laat jou woorde wys dat jy vir Jesus lief het.

Gebed: Here, asseblief help my om U te prys deur die woorde wat uit my mond kom en te wys dat ek ‘n kind van U is. Amen.

Uitdaging: Dink oor die nagevolge wat jou woorde kan hê. Woorde maak baie seer, maar woorde kan ook die brug wees tussen selfdood-gedagtes en oorlewing. Gebruik jou woorde vandag om iemand se dag op te helder.