What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Wie is die Heilige Gees?

Handelinge 1:1-8 “Al wat julle hoef te weet, is dat God met sy groot krag in julle lewe sal werk wanneer die Heilige Gees na julle toe kom. Dan gaan julle oral oor My praat: hier in Jerusalem, maar ook in die hele Judea en Samaria. Ja, selfs tot aan die verste uithoeke van die wêreld.”

In hierdie gedeelte gee Jesus vir ons ʼn belangrike leidraad oor die Heilige Gees. Die Heilige Gees is die een wat agterbly wanneer Jesus die wêreld verlaat, en ook die een wat heel tyd by ons bly. Die Heilige Gees gee nie net leiding oor hoe om die Woord van God aan ander te vertel nie, maar gee ons ook die krag en wysheid om te dit te doen.

Elkeen van ons wil graag doen wat Jesus van ons gevra het, maar partykeer voel dit so moeilik (en eintlik so bietjie onmoontlik!). Partykeer maak die Bybel nie regtig sin nie, en dit voel asof God nie ons vrae beantwoord nie. Het God ons dan alleen gelos? Nooit! Hy het juis Sy Gees, die Heilige Gees, na ons gestuur om ʼn pad saam met ons te stap en om ons te help om die Bybel te verstaan, en ook om makliker met God te kan gesels. Die Heilige Gees is soveel meer as ʼn reisgenoot Hy is ook ʼn lewensgenoot!

Gebed: Here, dankie dat U, U Gees na ons gestuur het. Dankie dat U ons nie alleen gelos het nie, maar vir ons al die toerusting en hulp gee om volgens U wil te lewe. Help my asb. om meer te fokus op die Heilige Gees, en om daagliks U drie-enigheid te loof en te prys! Amen.

Uitdaging: Dink aan ’n probleem in jou omgewing wat nie maklik oplosbaar is nie, en gesels met ’n predikant of geestelike vennoot oor hoe die Heilige Gees julle kan lei om dit aan te spreek.