What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Wees geduldig met jou ouers se foute

Efesiërs 4:2 (NLV) Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra.

Ek lees hierdie vers raak in Floyd McClung se boek, Learning to love people you don’t like, en dink aan ouers … Dis nie dat ons nie ons ouers like nie, dis net dat hulle mens partykeer so kwaad maak!

Dit is maklik om vriendelik en geduldig met ons vriende te wees, maar met ons ouers is dit net asof daar soms ‘n ander stel reëls geld. Hulle ken ons mos – ons hoef hulle nie te beïndruk nie, en buitendien voel dit soms of hulle ‘n mens se geduld ekstra beproef!

Het jy al ooit gewonder hoe jou gedrag teenoor jou ouers wys of jy deur die Heilige Gees of jou eie vlees gelei word? Geduld beteken om liefdevol te wees teenoor ander, selfs wanneer hulle verkeerd is. Kan jy liefdevol genoeg wees om geduld te hê met jou ouers se foute? Kry jy dit reg om op jou tong te byt en eerder stil te bly as om iets leliks te sê?

Vra God om jou vol te maak met Sy liefde vir jou ouers, en ook sommer al die ander vrugte van die Gees. Wanneer jy op ‘n plek is waar jy jou ouers like of nie baie like nie, dat jy hulle nog steeds met respek sal hanteer.

Wees geduldig met jou ouers se foute!

Gebed: Vader, vergewe my asseblief waar ek nie liefdevol teenoor my ouers was nie. Help my om meer geduldig met hulle te wees. Amen.

Uitdaging: Bepaal op ‘n skaal van 0 – 10 hoe geduldig jy met jou ouers is. Vra die Here wat jy kan doen om geduldiger te wees. Vra Hom om jou hierdie week spesifiek hiermee te help. Kyk volgende week terug oor jou week en kyk of iets verbeter het.