What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Wees anders. Wees lig.

Jesaja 60:2 Dit is donker in die wêreld. Daar is duisternis onder die volke. By jou laat die Here dit egter lig wees. Hy is by jou. Hy maak lig vir jou dat jy ook ‘n lig kan wees.

Wanneer daar gepraat word oor boelies is dit soms moeilik om die lyn te trek wanneer om iemand in die “boelie” boksie te sit en wanneer dit bloot iemand is wat gemeen is teenoor iemand anders.

Nie een van ons wil graag as ‘n boelie bekendstaan nie. En tog moet ons almal probeer oorleef waar ‘n mens moet veg vir jou plekkie in die son. Dit is tog nie so verkeerd om vir die mense om jou te wys jy is iemand om mee rekening te hou en ‘n paar kinders mooi te vertel wat jy van hulle dink, of bloot weier om met hulle te praat nie. Almal doen dit tog. Of is dit …?

Die Bybel sê dit is donker in die wêreld. As ons onsself gaan meet aan die manier hoe almal rondom ons optree, kan die standaard maar baie laag wees! Daar is ‘n baie groot verskil tussen donker en lig. God vra ons om lig te wees. Dit beteken dat die manier hoe ons ander mense hanteer maar baie kan verskil van hoe ander mense maak.

Wanneer ons ander mense met liefde en respek hanteer, is dit soos ‘n sprankie hoop vir almal wat dit sien. Dit laat hulle besluit om dieselfde te begin doen. Dit laat mense wonder wat dit is wat jou so anders maak dat jy jouself kan liefhê sonder dat jy ander hoef af te trek. Dit laat mense wat seergekry en uitgeskuif is voel dat daar rede is om te lewe en dat daar tog ‘n moontlikheid is dat hulle as mens aanvaar kan word.

Die manier hoe jy ander mense hanteer, maak ‘n baie groter impak as wat jy besef.

Wees anders. Wees lig.

Gebed: Here, dit is so moeilik om teen die stroom te gaan wanneer almal lelik is met iemand. Ek is so bang hulle skuif my ook dalk uit. Maak my dapper en vol van U liefde, sodat ek net liefde aan ander mense sal uitdeel. Amen.

Uitdaging: Wanneer iemand hierdie week iemand uitlag, moenie saam lag nie. Wanneer daar lelik oor iemand gepraat word, moenie saam praat nie. Wanneer daar gesels word oor hoe iemand uitgeskuif kan word, probeer aan planne dink hoe almal ingesluit kan word.