What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Wat jy ookal doen – doen jou bes en vertrou God vir die res!

1 Korintiërs 9:27

“Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees.”

Jim Yost is ‘n sendeling onder die tribes in Indonesië. Hy vertel onlangs hoe hy gereeld gaan draf om oefening te kry. Nie omdat hy so baie van oefening hou nie. Nee … hy gaan draf om sy liggaam sterk te maak sodat hy nie so baie malaria sal kry nie. Want as hy malaria kry is hy plat in die bed en gaan geleenthede verby waar die Here hom kon gebruik het.

Dit het my baie laat dink oor myself en wat ek moet doen om so beskikbaar as moontlik vir God te wees. ‘n Mens is so geneig om net te dink aan wat nou vir jou lekker is om te doen en tot jou eie voordeel is, dat dit soms moeilik is om iets aan te pak waarvoor jy nie lus het of waarvan jy nie dadelik die nut sien nie.

Terwyl ‘n mens op skool is, is jy meestal besig om jouself akademies voor te berei vir jou toekoms. Jy weet nie wat op jou wag of watter paadjie God nog met jou gaan stap nie. My paadjie het beslis heel anders uitgedraai as wat ek op skool gedink het! Wat jy wel nou kan doen is om jouself so goed as moontlik voor te berei in alles wat jy aanpak, sodat jy in ‘n plek is om geleenthede aan te gryp as dit later oor jou pad kom.

Wanneer jy dus weer so sukkel om motivering te kry om vir daardie Wiskunde-toets te leer, probeer dit sien as ‘n belangrike treëtjie op jou lewenspad. Selfs al is dit om eendag vir iemand te verduidelik hoe onmoontlik dit is dat vyf broodjies en twee vissies vir 5 000 mense kos kan gee – en tog is alles vir God moontlik. Of dalk is dit om daardie deursettingsvermoë te oefen wat jy iewers baie nodig gaan hê.

Wat jy ookal doen – doen jou bes en vertrou God vir die res!

Gebed: Vader, help my om dit wat ek doen so goed ek kan te doen. Amen.

Uitdaging:  Waarmee sukkel jy die meeste om voorbereiding voor te doen of tyd aan te spandeer? Kyk wat jy kan doen om dit hierdie week beter aan te pak.