What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Ware liefde is onvoorwaardelik

Johannes 5:14-16

14Later loop Jesus die man weer in die tempel raak. “Wel, jy is nou gesond. Bly nou van die sonde af weg sodat iets slegters jou nie dalk tref nie.” 15Die man is toe reguit na die Jode toe om vir hulle te vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. 16Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het.

Die man wat deur Jesus gesond gemaak is, was waarskynlik nie wat baie mense die ‘beste’ van mense sou beskou nie. Dit was seker nog ‘n rede waarom die Fariseërs nie daarvan gehou het dat hy gesond gemaak is nie. Hy het baie verkeerd dinge gedoen en ook nie die reëls gevolg nie … EN hy het gesond geword?! Nee, die Fariseërs het glad nie daarvan gehou nie.

Ons dink altyd dat mense wat slegte dinge doen, verdien dat daar slegte dinge met hulle gebeur. En omdat mense goeie dinge doen, verdien hulle goeie dinge. God stel meer belang in ons belewenis en attitude oor die genade wat ons gekry het as in dit wat ons doen. God se liefde is sonder voorwaardes. As ons dink dat ons God se liefde kan verdien, sal ons altyd vies wees wanneer ons God se liefde sien vir mense wat dit nie ‘verdien’ nie.

Die man het na die tempel gegaan sodat hy vir die mense en die priester kon wys dat hy gesond  is. Hy wou daarmee wys hoe dankbaar hy is. Jesus se liefde het só ‘n groot impak op hom gehad dat hy nie anders kon as om sy lewe te verander nie. Die Fariseërs net nie daarvan gehou dat Jesus iets goeds vir die man gedoen het nie. Ek weet nie van jou nie, maar ek dink dit is duidelik wie die beter houding gehad het.

Ware liefde is onvoorwaardelik.

Gebed: Dankie Jesus, dat ek niks hoef te doen om U liefde te verdien nie. Help my om U goedheid ook vir ander mense te gun. Amen.

Uitdaging: Is daar iemand met wie jy regtig vassit? Oefen om hulle lief te hê al het hulle niks gedoen om dit te verdien nie.