What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Vissers van mense

Matteus 4:18-19: “Eendag het Jesus by die See van Galilea gaan stap. Hy kom toe af op twee broers , Simon en Andreas. Hulle was twee vissermanne. Hulle was juis besig om hulle nette in die see te gooi toe Jesus vir hulle sê: “Laat staan julle nette, kom agter My aan! Word My volgelinge. Dan sal Ek julle leer om van nou af mense te vang wat in sonde leef, sodat hulle deel kan kry aan God se nuwe wêreld!”

Het jy al die stem gehoor wat vir jou sê: “Volg My!” Dis ‘n baie groot voorreg, maar dit bring ook baie groot verantwoordelikheid. Dis wonderlik om ‘n kind van die Here te wees, maar dit bring ook baie reëls en volharding saam. As kind van die Here is almal se oë gedurig op jou en daarom moet ons sorg dat ons altyd gehoorsaam is aan Sy Woord en dat ons verhouding met Hom reg is.

As nuwe Christen brand daar ‘n vuur in jou en jy wil berge versit om God se Woord met almal te deel, maar ons moet pasop, want die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu en hy gaan alles probeer om ons van daardie gevoel te ontneem.

Die Heilige Gees maak dit vir ons moontlik om ‘n getuie te wees van die verlossing wat Jesus bewerk, maar dit beteken jy moet gewillig wees om jou kruis op te neem en om Jesus te volg en om van God en Sy wonderdade te getuig!

Uitdaging: Vertel vandag vir jou vriende hoe dit gekom het dat jy Jesus se volgeling geword het.

Gebed: Here Jesus, wees U die Pottebakker en ek die klei. Vorm en maak my slegs soos U wil en stuur my om ‘n visserman van mense te wees. Amen.