What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Vertrou op God en maak jou ouers trots!

Spreuke 23:24-25

Maak jou ouers trots op jou. Maak hulle dankbaar omdat jy in die Here glo en reg wil leef.

Ek was in my derde jaar op universiteit toe ek vir die eerste keer God se roeping in my lewe gehoor het om voltyds vir Hom te werk. Om dit te doen, moes ek my studierigting heeltemal verander en, um ja, my ouers het sopas vir drie jaar se studies betaal. Ek was doodbang om hulle te vertel, maar ek het geen keuse gehad nie.

Ek onthou nog hoe ek met dit in my hart gesukkel het en hoe ek een oggend deur die hele kerkdiens gesit en huil het. Obviously het my pa geweet iets was fout. Ons het toe Wimpy toe gegaan en ‘n melkskommel bestel. Dit was vir my die moeilikste ding om met hom te deel. Wat sou hy sê oor die feit dat ek nie meer wou swot waarmee ek besig was nie – veral na ek aan die einde van my studies was?

My pa het my verbaas toe ek uiteindelik die woorde laat uitglip en vir hom sê ek wil voltyds in die bediening gaan. Sy woorde was: “Ek het nog altyd gedink jy gaan iets soos hierdie vir my sê” – ‘n las was van my skouers af. My pa het soveel liefde en trots uitgestraal oor my keuse en hy het glad nie gereageer soos ek gevrees het nie. Hy het my ook gehelp om die nuwe pad aan te durf. Hy was dankbaar dat God my wou gebruik.

Vertrou op God en maak jou ouers trots!

Gebed: Here, U is so lief vir my. Dankie dat U vir my ouer mense gee wat my oneindig liefhet … Mag my lewe hulle trots maak … Amen.

Uitdaging: Maak ‘n lys van die dinge waaroor jy dankbaar is vir jou ouer(s) wat vir jou sorg. Neem dit na God in gebed.