What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Versier jy jou tent of jou huis?

2 Korintiërs 5:1

1Wanneer ons liggaam eendag soos ’n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ’n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie.

Het jy al ooit saam met jou ouers of vriende vir die naweek gaan kamp? Kamp is lekker, maar die deel van kamp wat vir my die aakligste is, is om die tente op en af te slaan. Dit neem so baie tyd en jy weet dit gaan nie lank bly staan nie (selfs erger, die wind trek dalk die penne los en die tent waai weg).

In vandag se vers vergelyk Paulus ons lewe op aarde met ‘n tent. Net soos ‘n tent nie gemaak is om vir ewig opgeslaan te word nie, so is ons lewe op aarde net ‘n deel van God se plan vir ons.

So net soos gister se vers, kyk ons vorentoe na die wonderlike dinge wat God vir ons in gedagte het. Ons moet besluit of ons meer aandag gaan gee aan aardse dinge wat net tydelik is en of ons eerder ‘n lewe wil leef wat ‘n impak het op ons ewige verhouding met God.

Versier jy jou tent of jou huis?

Gebed: Dankie Here, dat U vir my ‘n ewige blyplek saam met U bou. Ek is lief vir U en ek wil elke dag vir U beter leer ken.

Uitdaging: Gebruik hierdie naweek om op jou eie twee keer (vir Saterdag en Sondag) ʼn Bybel oop te maak en ʼn bietjie van jou eie Bybelstudie aan te pak – of selfs beter – nooi ʼn vriend/vriendin oor om saam oor ʼn bybelstukkie te praat.