What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Vergewe jou vyand

Lukas 6: 27-31 “Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie. Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig … As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie. As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op.” 

Daar is dae wat ek voel dat ek nie genoeg praktiese raad spesifiek van die Here kry nie, maar dan kom ek op hierdie verse af. Dit ruk my eintlik aan die bors en sê vir my wat ek moet en nie moet doen nie. Beter raad kan ons nie kry nie. 

Tog sukkel ons om hierdie raad van God te volg. Ons hou ons ore toe vir God en luister vir dit wat die duiwel sê – dit wat ons weet is verkeerd. Dis moeilik om my vyande lief te hê en hulle te behandel soos ek behandel wil word. Dit voel asof hulle dit nie verdien nie, want hulle is besig om sonde te doen. Maar as ons hulle nie hanteer soos wat die Here wil hê ons moet nie, is ons besig om in dieselfde strik as die ander persoon te trap. 

Gebed: Ek is jammer, Here, dat ek soms my vyande hanteer soos ek dink die beste is. Lei my om hulle lief te hê en te vergewe. Amen. 

Uitdaging: Die eerste stap om jou vyand lief te hê, is om hulle te vergewe. Dink aan iemand vir wie jy baie kwaad is en vra die Here om jou te help om daardie persoon te vergewe.