What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Trek nuwe klere aan

Efesiërs 4:22-24 “Los julle ou manier van lewe. Soos ‘n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit. Julle moet ‘n nuwe gesindheid kry en op ‘n nuwe manier oor dinge dink. Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ‘n mens nuwe klere aantrek.”

Het jy al probeer om ‘n dag sonder jou foon te gaan? Geen WhatsApp, geen games, of selfs internet om antwoorde vir vrae te soek nie. Party van ons vriende is met verkeerde dinge soos dwelms, dagga, sigarette en drank besig en kan nie meer daarsonder nie. Ander van ons is weer besig met pornografie, dobbel en ander verslawings en hoe harder ons probeer, hoe moeiliker is dit om sonder dit klaar te kom.

Verslawing kom op verskillende maniere voor. Dit is nie net verslawing aan drank of dwelms nie, maar ook dinge waarsonder jy nie kan klaarkom nie. In Efesiërs waarsku Paulus die mense om die ou manier van lewe uit te trek soos ou klere en ‘n nuwe manier van lewe aan te leer, soos om nuwe klere aan te trek.

Jesus Christus het dit moontlik gemaak dat ons kan wegbeweeg van ons ou manier van lewe deur aan die kruis te sterf, sodat ons ‘n nuwe lewe kan kry. Jy is ook in staat om nuut te dink, nuut op te tree en nuut te praat. Trek uit die vuil klere en jy sal sien dat jy elke dag al hoe meer soos Jesus sal lyk.

Uitdaging: Probeer vandag vir een uur sonder jou verslawing te gaan.

Gebed: My Here en my Verlosser, help my asseblief om weg te beweeg van my verslawing en my ou manier van lewe. Help my, asseblief, om my gesindheid te verander sodat ek met trots die nuwe klere sal aantrek waarvoor U so duur betaal het. Amen.