What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Staan vir iets, of jy sal vir alles val

Romeine 12:2 (NLV) Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie …

Die lewe is vol keuses! Jy kan kies of jy water of sap gaan drink. Jy kan kies wat jy gaan aantrek in die middag. Jy kan op ‘n stadium kies watter vakke jy wil neem en watter loopbaan jy gaan volg.

Jy kan ook kies wie jou vriende gaan wees en of jy alles gaan doen wat hulle doen. Jy kan ook kies wie jy op watter sosiale media gaan toelaat om – soos jou vriende – input in jou lewe te gee. Aangesien hierdie keuses ‘n groot invloed het op hoe ons oor onsself en die lewe dink en in watter rigting ons lewe beweeg, is dit taamlik belangrike besluite.

Daar is baie druk op ons vandag om op ‘n sekere manier te lyk, dink en doen. Die keuse na wie ons gaan luister en wat ons gaan doen, bly ons elkeen s’n. En die gevolge daarvan gaan ons elkeen ongelukkig moet dra. Kies ons paadjies wat nie deel is van God se liefdevolle plan nie, ly dit tot hartseer, swaarkry en trane – selfs al lyk dit aan die begin so aanloklik!

Dit is nie altyd die gewilde opsie om nie te maak soos die wêreld rondom jou nie. Maar as jy gaan besluit om dit wat jy kies om te doen te meet aan dit wat God in die Bybel sê, kies jy ‘n lewe wat God beslis sal beloon. Jou vriendskap met God sal sterker word en jy sal nie sommer vir enige versoeking val nie.

Paulus se raad aan Timoteus was om weg te vlug van al die verkeerde dinge wat vir ‘n jongmens so lekker lyk (2 Timoteus 2:22). Dit is hoe hy gestaan het vir wat reg is.

Staan vir iets, of jy sal vir alles val!

Gebed: Here, ek wil nie altyd die dinge doen wat my vriende verwag nie, maar dit is so belangrik vir my om hulle vriendskap te hê. Help my om dapper te wees en te kies om U te volg, selfs al kies my vriende ‘n ander paadjie.

Uitdaging: Maak ‘n lys van almal wat ‘n invloed op jou lewe het: vriende by die skool, vriende op ander plekke, sosiale media ens. Wees eerlik en kyk waar daar druk op jou is om verkeerde dinge te glo en te doen. Besluit wat jou reaksie gaan wees as daardie persoon weer van jou gaan verwag om iets te doen wat jy weet verkeerd is.