What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Staan sterk … God is daar!

Romeine 5:3-4

3Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. 4En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm. En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag.

Dit gebeur met almal dat hulle deur moeilike tye gaan. Jy het dalk ‘n geliefde verloor weens die dood. Jy hoor dalk jy is terminaal siek en is te jonk daarvoor. Jou pa of ma het hul werk verloor en nou sit julle sonder kos in die huis.

Wanneer was die laaste keer dat jy iemand geantwoord het met “Dit gaan goed” omdat dit regtig goed gaan met jou? Die brief van Romeine herinner ons dat swaarkry gebeur, maar juis deur swaarkry moet ons weet God is met ons. Wanneer daardie tydperk ook verby is, sal ons ‘n sterker geloof in Hom hê, want ons het gehoop en vertou op God.

Partykeer gaan die swaarkry nie vinnig genoeg verby nie en dan verloor jy dalk hoop en wonder waar God is. Maar dit is gewoonlik in die tye van swaarkry waar ons God se teenwoordigheid en wonderwerke die meeste ervaar.

Staan sterk … God is daar.

Gebed: Here God, U sien die swaarkry in my huis en in my lewe. Help my asseblief om my geloof te laat volhard in U en te weet U gaan hierdie swaarkry saam met my deur.

Uitdaging: Probeer om in die omstandighede waarin jy nou is, steeds God se hand te sien.