What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Soek eerder maniere om te dien as om gedien te wil word!

Markus 10: 35-45

43… Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44 en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45 Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Ons almal ken iemand wat hulle verhoudings (familie of vriende) wil gebruik of al gebruik het om voordeel te trek. Dit voel nie baie lekker wanneer mense hulle verhoudings so misbruik nie – die res word uitgesluit en kry nie ‘n kans om deel te neem nie.

In hierdie teks wil Johannes en Jakobus, twee van Jesus se dissipels wat ook broers was, die ereposisies langs Jesus inneem in die hemel. Hulle wil hulle vriendskap met Jesus gebruik om mag oor die res te hê. Jesus herinner hulle dat sulke posisies met baie verantwoordelikhede en lyding kom en noem ook dat God hierdie posisie reeds vir iemand gereed gemaak het (Awkward!).

Jesus roep dan die ander dissipels nader en herinner hulle dat hulle nie soos die regeerders van die ander lande moet wees wat hul mag gebruik om ander te onderdruk nie. Hulle is hier om mekaar en ander te dien, en ander te leer hoe om te dien. Dit is wat Jesus gekom het om te doen!

Jesus het gekom om vir ons elkeen te leer hoe om diensbaar te wees en hoekom dit die beste manier is om ander van God te leer. Jesus het die mees diensbare hart gehad, en sy grootste begeerte was dat ons ook so ʼn hart sal hê.

Soek eerder maniere om te dien as om gedien te wil word!

Gebed: Here, help my om te onthou dat ek nie U volg vir roem en aansien nie, maar omdat U vir my lief is en ek vir U lief is. Help my om ʼn regte verskil in die wêreld te maak… Amen.

Uitdaging: Dink aan praktiese maniere hoe jy diensbaar kan wees by die huis, by die skool, en by die kerk. Kies een en doen dit hierdie week.