What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Soek die ware storie van Jesus uit

Galasiërs 1:7

Maar julle leen mos julle ore uit aan ’n klomp mense wat die goeie nuus oor Christus heeltemal verdraai. Dit lyk my hulle het julle kop behoorlik deurmekaar gepraat.

Ons hou nie altyd van die waarheid nie – veral nie as dit beteken dat ons moet swaarkry nie. Dink net aan die hoeveelheid kere wat ons al vir onderwysers en ons ouers gejok het om uit die moeilikheid te kom.

Baie mense doen dit met die storie van Jesus. Hulle sê dalk dat Jesus net wil hê ons moet gelukkig wees en dat dit glad nie saak maak hoe ons lewe nie. Ander sê dat mens Jesus se liefde moet verdien, maar dit is nie in lyn met God se genade nie. Ons moet versigtig wees oor wat ons glo oor Jesus.

Daar was al baie kere wat mense die storie van Jesus verdraai het om hulleself te pas. Ons moenie toelaat dat ander ons deurmekaar praat nie. Jesus het gekom sodat God in ons midde kan leef en dat ons in Sy genade kan leef, selfs tussen die swaar tye.

Soek die ware storie van Jesus uit.

Gebed: Here, partykeer hoor ek baie dinge oor hoe U is en wat Jesus kom doen het vir ons. Help my om nie deurmekaar gemaak te word deur dinge wat nie waar is nie. Help my om U beter te leer ken en nie net te glo ek kan my eie storie opmaak nie… Amen.

Uitdaging: Dink aan iets wat jy onlangs oor Jesus geleer het van iemand anders – is dit die waarheid? Is dit wat ons leer uit God se Woord? Of is dit net iets wat ons beter laat voel? Gebruik die geleentheid om uit te vind wat God se Woord oor die onderwerp te sê het – en gesels dalk met ‘n geestelike leier daaroor.