What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Praat – daar’s altyd hoop

Jesaja 41:10

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Nadat Pierre sy plek in die eerste rugbyspan verloor het, praat mense agter sy rug. Die ouens maak aanmerkings dat hy toe nie so goed is soos wat hy gedink het nie. Sy “vriende” ignoreer hom. Hy word uitgesluit.   

Met die teleurstelling sukkel Pierre om soggens vir skool reg te maak. Sy eetlus is min en hy wil net slaap. Hy is sonder energie. Pierre is emosioneel – binne sekondes is hy opvlieënd en hoogs geïrriteerd. Hy het alle belang in sport verloor. Hy wil alleen wees. Hy kan nie konsentreer nie en na die toetsreeks is hy nie meer op sy graad se Top 10-lys nie.

Pierre se laaste uitweg is gebed. Dit maak nie saak hoe hard hy bid of by die Here smeek vir hulp nie, die lewe is vir hom onuithoudbaar. Hy verloor sy hoop in Jesus, want Hy bly missing in action. God het van hom vergeet. Die lewe maak nie meer vir hom sin nie en Pierre dink selfdood is die enigste uitweg. Dis duidelik dat hierdie traumatiese ervaring Pierre depressief gemaak het.

Daar is baie van ons wat elke dag soos Pierre voel. Jy werk hard, doen jou bes, probeer elke keer nog harder, maar jy voel nie beter nie. Práát vandag nog met iemand wat jy 100% vertrou wat saam met jou die pad kan loop voor jy tou opgooi. Vra dat jou geliefdes vir jou bid. Gebed is kragtig en dit werk altyd. Daar is altyd hulp, altyd hoop. Glo dit.

Voel jy vandag soos Pierre? God is by jou. Hy hou jou vas. Hy versterk en help jou. Glo dit.  

Gebed

Here, ek is totaal afhanklik van U. Gee my elke dag die moed om oor my swaarkry te praat en weer te probeer. Maak dit stil in my om die Gees se woorde van vertroosting en bemoediging te hoor. Amen.