What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Oorkóm die struikelblokke in die lewe met ‘n mosterdsaadjie

Matteus 17:20 “Omdat julle geloof te klein is,” het Hy reguit geantwoord. “Julle maak nie erns met God nie. Weet julle, as julle geloof in Hom maar net so groot soos ’n klein mosterdsaadjie is, sal julle onmoontlike dinge regkry. Dan sal julle enige struikelblok in julle lewe kan oorkom, hoe groot dit ook al is. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘Skuif uit die pad uit!’ dan sal dit gebeur. Niks is onmoontlik vir mense wat op God vertrou nie.”

Sjoe, hierdie teksvers tref ‘n mens nogals hard teen die bors. Hier is ‘n paar stellings in die vers wat my aan die dink gesit het.

  1. Ja, my geloof in God is partykeer heeltemal te klein. Ek moet meer erns maak met God se woord en meer op Hom vertrou.
  2. Weet jy hoe klein is ‘n mosterdsaadjie!? Om te dink as ek net soveel geloof kan hê, sal ek die vermoë hê om berge te kan versit, wat nog te sê van my aardse probleme nie.
  3. Niks, maar niks is onmoontlik as ek op God vertrou nie. Nie eers my bekommernisse oor my toekoms, my finansies, my rollercoaster vriendskappe of die berg werk wat voor my lê nie.

Ek vertrou op God … Dit voel partykeer vir my dis makliker gesê as gedaan. Dis moeilik om op God te vertrou as die paw paw die fan strike en dinge loop nie soos wat ek gedink het nie.

Uitdaging: Kyk of jy vandag ten volle op God kan vertrou. Vertrou op Hom met alles in jou en jy sal sien hoe die berge begin skuif in jou lewe.

Gebed: Here, dit is partykeer vir my moeilik om in U te glo as ek U nie kan sien nie. Dankie dat ek kan weet met U aan my sy is niks onmoontlik nie. Amen.