What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Ons het nie die reg om ander te oordeel nie

Galasiërs 6:1

My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.

Het jy al agtergekom hoe maklik dit is om ander mense se foute raak te sien? Kom ons wees eerlik: Ons almal het al seker een of ander tyd gedink: “Gelukkig maak ek nie soveel foute soos hulle nie”. Maar so ‘n houding maak ons op die ou einde ongelukkig en ontevrede.

Ons doel as mense wat vir Jesus ken en God liefhet is om ander te help en nie te oordeel nie. Imagine net ons het die vermoë gehad om altyd ander se foute in liefde aan te spreek. Imagine ons kon soos Jesus onvoorwaardelik lief wees vir ander mense.

Maar op die ou einde is dit nie so moeilik nie. As ons fokus op ons eie verhouding met Jesus, sien ons meer en meer ook waar óns dit nie maak nie. Dit hou ons nederig. Ons kan dan leer en agterkom uit ons eie foute dat ander ook sukkel en struikel. Jesus is die enigste een wat ander se foute kan oordeel, want Hy het nooit ‘n fout gemaak nie.

Ons het nie die reg om ander te oordeel nie.

Gebed: Here, ek wil U liefhê meer as enige iets anders. Help my om nie ander te oordeel vir wat hulle doen nie. Help my asseblief om te fokus op my eie verhouding met U sodat ek my vriende in liefde kan help. Amen.

Uitdaging: Maak vir jou ‘n nota wat jy op jou spieël kan plak wat jou sal herinner om eerste op jouself en jou verhouding met Jesus te fokus voordat jy op ander se foute fokus.