What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Ons help mekaar om Jesus beter te ken! – #imagine maandae

Handelinge 8:26-40

30Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?” 31Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my verduidelik nie?” Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit… 35Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

Kan jy onthou toe jy nog nuut in jou geloof was? Nog voordat jy van Jesus, God of die Bybel gehoor het? Van ons het daarmee groot geword, maar ander het eers later daarvan geleer. Dit is danksy mense soos Filippus wat Jesus en die Bybel aan ons verduidelik het, dat ons nou onsself gelowiges kan noem.

Filippus is ʼn gelowige wat gereeld met God praat, en op ʼn dag sê God vir hom om op ʼn reis te gaan. Op hierdie reis ontmoet hy die Etiopiër en kry hy die geleentheid om die evangelie met hom te deel. Dit is ʼn baie spesiale oomblik, want hoe gereeld kry jy iemand wat vir jou vra om hulle van God te vertel! God het reeds met die Etiopiër begin praat, maar Filippus het dit vir hom duideliker kom maak.

Hierdie teks herinner ons dat nie almal se geloofstorie dieselfde is nie, en dat ons mekaar nodig het om vorentoe te beweeg en saam te journey. Nie net is dit ʼn wonderlike idee om ʼn mentor te kry nie, maar dit is ook wonderlik om een te kan wees!

Ons help mekaar om Jesus beter te ken!

Gebed: Here, dankie dat U vir ons mekaar gegee het. Dankie dat ons groot verskille kan maak in mekaar se lewens, en dit deur net oor U te praat! Help my om bewus te wees van mense wat ek kan help, en ook van mense wat my graag wil help.

Uitdaging: Maak ʼn vriend van ʼn ander kultuur, taalgroep, of ras. Vra hulle oor die betekenis van hulle naam, hul familie, en hul drome vir die toekoms.