What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

’n Sak Vol Klippe

Jakobus 5:16

“Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word.”

“Hy verdien nie om vergewe te word nie …” Hierdie gedagte was die skadelikste idee wat ek in my kop kon toelaat.

Ek het nooit regtig vergifnis verstaan nie. Ek het gedog dat wanneer ek iemand vergewe, moet ek okey wees met wat hulle gedoen het, my emosies moet dan en daar herstel en ons moet dadelik sommer kan lag daaroor. As gevolg van hierdie prentjie van vergifnis, kon ek dit nie oor my hart kry om ’n spesifieke persoon in my lewe te vergewe nie.

God het gesien hoe dit my vernietig, so toe doen Hy iets daaraan (soos Hy altyd doen). Die volgende bevind ek myself bo-op ’n verhoog by ’n kursus wat gaan oor vergifnis. Uit die hele gehoor het die aanbieder vir my gekies om te help met haar demonstrasie. Ek staan toe daar voor met ’n leë sak waarin sy een vir een groot klippe laai. Lekker.

Sy het dit gedoen om te wys hoe jy deur nie te vergewe nie, eintlik net jouself in die voet skiet. Die ander persoon loop vry rond, terwyl jy net nog en nog klippe in jou sakkie laai. Daardie aand bel ek huilend my Bybelstudie leier. “Hoe raak ek ontslae van al hierdie klippe? Hoe vergewe ek hom? Hy doen dit dan oor en oor!” Haar woorde het my lewe verander:

“Om te vergewe is nie ’n gevoel nie, dis ’n besluit. Jy KIES om te vergewe, maar dit beteken nie dat daardie wonde dadelik genees nie.”

Gebed: Here, wys vir my wie ek moet vergewe. Help my dan om daardie besluit te maak. Ek lê my wonde voor U neer en vertrou dat U alles sal herstel. Amen.

Uitdaging: Maak nou dadelik ’n lysie van mense wat jou seergemaak het. Trek ’n lyn deur elke naam soos jy hulle vergewe.