What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

My hartseer rit tot in Clicks

My hart begin vinnig klop en my maag trek op ‘n knop. Ek begin huil. Ek weet ek het nou ‘n groot fout gemaak. Dit wat ek nou al vir meer as ‘n jaar probeer vermy, het gebeur: Ek het my kar se rim gekrap. En ja, dit lyk nogals erg.

Terwyl ek op pad Clicks toe is om vir my medisyne te gaan koop, want boonop is ek nog siek ook, kan ek nie ophou huil nie. Dis seker nie alles oor die rim nie, want die afgelope week was nogals hectic. Ek dink by myself, dit is mos net aardse goed. Ek weet dit, maar ai, dit bly sleg as so iets gebeur.

Ek kan amper nie my emosies bymekaar hou daar in die lang ry in Clicks nie. Toe ek voor kom, kan ek skaars die apteker in die oë kyk en sê wat ek wil hê. Ek was vir lank hartseer. En ja, ek het baie gehuil en myself ruimte gegee om die seer te embrace.

Ek dink een van die redes hoekom hierdie hele affêre vir my so erg was, is omdat ek so baie druk op myself sit. Ek wil altyd net alles reg en perfek doen. Daarom, as so iets met my gebeur, is dit ekstra erg, want ek het dit nie van myself verwag nie. Ek is eintlik meer teleurgesteld in myself as enigiets anders.

Psalm 103:3 Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond.

Sit jy dalk ook te veel pressure op jouself? Neem jy ook jouself kwalik vir klein foutjies wat jy maak? Moenie. Dit is nie die moeite werd nie. Jy moet leer om jouself te vergewe, soos God jou vergewe. Dis wat ek moes doen nadat my trane opgedroog en my emosies weer onder beheer was.

Uitdaging: Dink bietjie oor iets waarvoor jy jouself kwalik hou. Probeer om jouself te vergewe vir die klein foutjies wat jy maak. Leer net daaruit.

Gebed: Here, help my om myself te vergewe deur nie te veel pressure op myself te sit nie. Amen.