What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

My enigste begeerte

Kolossense 3:2 Moenie toelaat dat dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie.  –

Die duiwel haat eintlik net een iemand: God. Maar as hy nie eers aan God mag raak nie, hoe maak hy Hom dan seer? Hy doen dit deur dit waarvoor God die liefste is, aan te val — Sy kinders.

Dit is hoekom ons so getreiter word, maar God het vir ons die outoriteit gegee om deur Hom die vyand te kan weerstaan. Die enigste keer wanneer hy ons mag seermaak, is wanneer ons vir hom toestemming gee.

So wat is sy plan? Om ons begeertes groter as ons liefde vir God te maak. Hy wil ons aandag en fokus so ver as moontlik van God af kry.

Maar God weet wat die duiwel se agenda is. Dit is hoekom Hy oor en oor in Sy Woord vir ons instruksies soos hierdie gee:

Gaan dood aan jouself, moenie dat jou begeertes jou beheer nie (Romeine 6:11-14)

Soek net vir My, dan sal ek vir die res sorg (Matteus 6:33)

Fokus op die goed van Bo, nie op aardse dinge nie (Kolossense 3:2)

Hierdie versies sê vir my dat God nie net my eerste begeerte moet wees nie, maar my enigste. En Hy doen dit nie omdat Hy al die aandag soek nie, Hy doen dit om my te beskerm. Hy weet dat wanneer die duiwel na my toe kom om my om te krap, gaan hy dit nie regkry nie, want die enigste ding wat vir my saakmaak, is God.

Uitdaging: Imagine iemand kom nou na jou toe en gee vir jou die volgende twee opsies:

  1.  Jy verloor alles — jou vriende, familie, huis, gesondheid …
  2. Jy leef nie God se plan vir jou lewe uit nie.

Wat sal jy kies?

Gebed: Pappa, help my om agter te kom wat vir my belangriker is as wat U vir my is. Help my dan ook om my fokus op U te rig. Ek lê my begeertes voor U neer. Amen.