What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Moenie jouself isoleer nie

Onttrek jy jouself uit die samelewing omdat jy dalk voel jy pas nie in nie? Druk jy jou kop in ‘n hoekie en maak of dit net jy op hierdie aardbol is? Voel jy partykeer geïsoleerd? Dis so ‘n groot woord vir iets wat ‘n mens so alleen kan laat voel.

God het ons nie gemaak om alleen te wees nie. Of jy nou jouself isoleer van die samelewing en of jy voel ander mense skuif jou uit … Ons is vir mekaar gegee om mekaar te help, te ondersteun en by te staan. En ja, partykeer maak die mense wat die naaste aan ons is ons die seerste. Ons almal het seer, moeilike tye en tye van nood in ons lewens, maar ons moet by mekaar staan in daardie tye.

Dit is ook baie belangrik vir ons om nie die mense naaste aan ons en wat ons wil help sal wegstoot nie. Die Woord sê twee is beter as een. Ons moet mekaar ruimte gee om daar te wees vir mekaar, raad te gee, saam te huil en net te ondersteun. Dit is wat die mense rondom jou wil doen. Moenie hulle wegstoot nie. Ons moet mekaar se seer help dra.

1 Petrus 5:8 In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ’n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ’n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg.

Ja! Die duiwel is listig. Hy sal enigiets doen om jou van die regte pad af te kry. Moenie hom rope gee om dit te doen nie. Staan sterk teen die vyand en sy leuens.

Gebed: Here, dankie vir die mense rondom my. Help my om hulle te gebruik, nie weg te stoot nie en hulle met alles in my lief te hê. Help my om nie myself te isoleer nie en oop te maak teenoor my naastes. Amen.

Uitdaging: Praat met die mense die naaste aan jou. Moenie jou kop onder die kombers indruk en jouself jammer kry nie. Ons is vir mekaar gegee deur God. Dis een van Sy grootste geskenke aan jou.