What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Met God is daar nie ‘n hopelose einde nie, maar ‘n eindelose hoop

2 Korintiërs 4:8

Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie.

Sommige mense kry dit net reg om bo hulle probleme uit te styg. Niks kan hulle onderkry nie! Die mense moes ook gedink het Paulus, wat die boek Korintiërs geskryf het, is ‘n baie besonderse mens, want niks kon hom stir nie.

Maar hy deel ‘n groot geheim. Dit is nie hy wat so spesiaal of wonderlik is nie. Die probleme tref hom ook maar. Maar hy het nooit, ooit moed verloor nie, want hy het geweet dit maak nie saak wat gebeur nie, God los hom nooit alleen nie. Hy het nie net vasgekyk in dit wat vir hom swaar is nie. Hy het sy oë op God en Sy beloftes gehou.

Paulus vergelyk homself met ‘n kleipot wat, soos ek en jy, maklik breek wanneer die lewe swaar is. Maar binne in hom is ‘n waardevolle skat: die allesoortreffende krag van God. Die lewe kan ons maar stamp en stoot. Soms vir kort tye en soms vir langer tye. Maar God se krag word nooit minder nie. Hy help ons daardeur. Dit is juis in die moeilike tye wanneer God se krag beter gesien kan word. Geen probleem is vir God te groot nie.

Met God is daar nie ‘n hopelose einde nie, maar ‘n eindelose hoop

Gebed: Vader, dankie dat U my nooit sal verlaat nie. Gee my krag om hierdie dinge wat vir my so moeilik is te hanteer. Net U alleen kan my hierdeur dra.

Uitdaging: Kyk terug na swaar dinge wat al met jou gebeur het. Hoe het jy daardeur gekom? Maak die besluit om al die struikelblokke wat jy nou ervaar of wat ookal in die toekoms mag kom, met God se hulp aan te pak sodat jy heel anderkant sal uitkom.