What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Liefde soek ‘n afleweringsadres

1 Johannes 4:11

God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar ook so lief te hê.

God het vir my en jou gemaak om liefde aan ander mense te gee. Verhoudings is vir Hom baie belangrik. Toe Hy aan die begin vir Adam gemaak het, het Hy gesien dat dit glad nie goed is dat hy alleen is nie en toe vir hom Eva gemaak. Jy het dalk nog nie jou troumaat ontmoet nie, maar dit beteken nie dat jy nie mense soos vriende en familie om jou nodig het nie. Dit gaan nie net daaroor dat jy iemand nodig het om jou behoeftes te vervul en met wie jy kan gesels nie. Dit gaan eintlik baie meer daaroor dat jy ‘n plek nodig het om die liefde wat God binne in jou geplaas het uit te gee. ‘n Plek om jou lig te laat skyn.

Die hartseerste is wanneer ons – miskien as gevolg van seerkry – onsself aan ander mense onttrek. Ons klim onder die emmer in en steek die lig in ons weg waar niemand dit kan raaksien nie. Dan word ons lig en ons liefde juis dowwer en dowwer en swakker en swakker. Die lewe verloor sy betekenis en jy begin kwyn, want dit is nie waarvoor jy gemaak is nie.

Soms is dit nodig dat ons verby ons pyn kyk en ander mense in ons lewe toelaat. Al voel dit nie op daardie oomblik tot jou eie voordeel nie, doen dit dan ter wille van die lig wat dit in ander mense se lewe kan bring. Wees vriendelik, gee om, wees nederig en hanteer ander mense met respek. Moenie mense vermy nie, maar reik uit na ander, al is dit soms awkward en voel jy onseker oor wat jy moet sê en doen. En jy sal voel hoe die vuur in jou al warmer brand!

Gebed: Here, dit is soms moeilik om ander mense te verstaan. Dit voel soms die veiligste om net almal te vermy en in my hoekie weg te kruip. Help my om nie net myself te beskerm nie, maar ook bereid te wees om liefde aan ander uit te deel. Amen.

Uitdaging: Vra God wie vandag jou liefde nodig het. Besluit wat jy vir daardie persoon gaan doen. Dit kan dalk ‘n koppie koffie of ‘n kompliment wees. Dit hoef nie iets groots te wees nie.