What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Leef vir God. Sy planne is altyd goed.

Romeine 12:1

Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewendige offers in God se hand wees. ‘n Lewe wat voltyds afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan.

Wie onthou nog die storie van Pinocchio? Die houtpop wat daarvan gedroom het om eendag ‘n regte seuntjie te word. Hy was beslis ‘n bietjie anders as die ander marionette. In die een toneel sing hy vrolik dat hy geen toutjies het wat hom vashou nie. Hy doen sy eie danspassies, terwyl hy saam met ‘n groep marionette dans wat maar net moet doen wat hulle meesters met die toutjies maak. 

Ons is ook soms soos marionette met toutjies wat ons in ‘n rigting trek. Ons sou graag wou dink dat ons self besluit wat ons wil doen, maar wanneer ander mense se opinies vir ons baie belangrik raak, kom ons soms op ‘n plek waar ons nie eers dink daaroor nie. Ons doen net wat ons marionet-meesters verwag. Lag wanneer hulle sê ons moet lag, loop waar hulle sê ons moet loop en doen wat hulle wil hê ons moet doen. Selfs al is dit soms tot ons en ander se nadeel.

Die dag wanneer ons besluit om Jesus te volg, is ‘n baie belangrike dag. Dit is eintlik die dag wanneer daardie toutjies wat ander mense vashou, geknip word. Daar is nie ‘n opsie om in die week te doen wat ons of ons vriende wil en dan Sondae vir God te volg nie. Dit is ‘n lewe wat, soos hierdie teks sê “voltyds afgesonder is vir Hom”.

Om voluit vir God te lewe, is nie altyd maklik nie! Maar dit is ‘n lewe waar jy sal beleef hoe wonderlik dit is om vrede met God te hê. Dan kan jy in die pad stap wat Hy vir jou beplan en in ewigheid die goeie vrugte daarvan geniet.

Moenie toelaat dat ander mense jou lewe vir jou bepaal deur mooipraatjies of dreigemente nie. Knip die toutjies wat jou terughou.

Gebed: Here, ek raak benoud as ek dink wat kan gebeur as ek nie doen wat my vriende doen nie. Ek wil nie sonder vriende wees nie. Help my om steeds voluit vir U te leef en te vertrou dat U my altyd sal help en vir al my behoeftes sal sorg. Amen.

Uitdaging:  Dink mooi wanneer was die laaste keer toe jy iets saam met jou vriende gedoen het waarmee jy nie gemaklik gevoel het nie. Vra God om jou te vergewe en te help om dit nie weer te doen nie.