What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Leef ’n lewe wat drup van dankie sê!

Romeine 6:19

Vroeër het julle julle oorgegee aan al wat sonde is. Met groot oorgawe het julle alles gedoen wat boos en sleg is. Nou moet julle met dieselfde oorgawe doen wat reg is.

Nou die dag verduidelik ek vir ’n ou hier om die hoek hoe sondevergifnis werk. Ek sê vir hom dat Jesus aarde toe gekom het om die mense te red van die hel af. Al manier hoe Hy dit kon regkry, is om met Sy lewe daarvoor te betaal. Sy bloed moes vloei. Hy moes sterf. Sy lewe was die betaling vir die sondes wat ons doen en nog gaan doen.

“En wat moet ons dan nou doen?” vra hy.

“Net sê jy is jammer vir wat jy aangevang het. Of soos hulle in Bybelse taal sê: Jy moet jou sondes bely.” sê ek toe.

“O, maar dis dan te lekker!” glimlag hy skeef.  “Ek kan dan maar doen wat ek wil en dan net gaan sê ek is jammer – dan is my boekie weer skoon …”

Die ou vang dit nie lekker nie, want as jy dit só doen, mors jy met die genade van God.

Jy sien, as ’n mens werklik verstaan wat Jesus gedoen het, kan ’n mens nie anders as om uit dankbaarheid ’n skoon lewe te leef nie. Dan wil ’n mens al hoe minder sondig en meer in God se genade bad.

Leef ’n lewe wat drup van dankie sê!

Gebed: Sjoe, Jesus! Hoe sê ’n mens dankie vir U groot genade-daad. Seker met dankbaarheid. Ja! Help my om ’n lewe te leef wat dankie sê. … Amen.

Uitdaging: Kyk hoeveel keer kan jy vandag uit jou hart vir mense dankie sê.