What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Leef met wysheid en opregtheid

Titus 2:11-12

11God het sy goedheid aan alle mense bekendgemaak. Almal het nou die kans om sy verlossing te beleef. 12Nou wys Hy vir ons hoe om ’n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef. Hy laat ons elke dag tot sy eer in die wêreld leef.

Daar is baie dinge in die lewe wat ons aandag van God wil aftrek. Hierdie dinge begin eers baie onskuldig en voel nie regtig verkeerd nie. Ongelukkig is dit sulke dinge wat geleidelik ons aandag wegvat van God se wil vir ons. Hierdie dinge begin al hoe belangriker vir ons word. Dinge soos rook, drankmisbruik, dwelmmisbruik, ongesonde eetgewoontes, selfs alledaagse dinge soos sport of stokperdjies.

Hoe weet ons wanneer ons verslaaf raak aan iets, of as iets belangriker word as God? Dit is juis wanneer ons nie meer kan “nee” sê daarvoor nie, of wanneer ons gesonde en goeie gewoontes (soos tyd saam met God, familie, rus) begin ignoreer om meer tyd vir die ongesonde gewoontes te maak. Só ʼn leefstyl eer nie vir God nie, want dit maak ons en ander mense seer. God wil so graag hê dat ons ʼn gebalanseerde lewe moet leef waar Hy die heel belangrikste is.

Gebed: Here, help my om te kan onderskei tussen ʼn gebalanseerde en ongebalanseerde lewe. Help my om raak te sien wanneer ek besig is met iets wat myself en ander gaan seer maak, en gee vir my die krag om daarvoor “nee” te sê. Help my om met wysheid en opregtheid te leef. Amen.

Uitdaging: Teken ʼn sirkel wat verdeel is in 24 ure. Gaan vul elke uur van die dag in met dinge waarmee jy besig is. As jy bietjie meer tyd het, sit en dink aan die verskillende gedagtes waarmee jy jouself besig hou in daardie tyd. Hoe lyk daardie sirkel van jou?