What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Laat los sodat God jou kan vang

Jesaja 26:3 “U, Here, gee U vrede en voorspoed vir die wat op U vertrou en volhard in die geloof.”

Jy ken seker daai speletjie waar jy met jou rug teen jou vriend staan en dan in sy arms val … of partykeer nie. Meeste van die tyd twyfel jy of die persoon jou regtig gaan vang, want jy is bang jy gaan val.  Dan is daardie persoon geneig om te sê dat jy hom net moet vertrou. Sodra jy vertroue in daardie persoon het, het jy geloof dat hy jou sál vang.

Dis presies wat die Here van ons verwag. Al sien ons Hom nie, moet ons vertrou dat Hy ons sal vang. Dink byvoorbeeld aan ‘n akrobaat wat met toue in die lug swaai en dan die tou los om aan ‘n ander een te gryp. As jy nie gaan los nie, gaan jy nooit weet of jy God kan vertrou nie. Soms moet ons laat los soos die akrobaat om nuwe vertroue te kry!

Soos die Here sê in hierdie versie, Hy sal vir jou vrede gee oor jou lewe, sowel as voorspoed. Met ander woorde, die Here sal jou beloon as jy op Hom vertrou en saam met Hom ‘n pad sal stap. Dis gewoonlik moeilik om alles te los sodat die Here dit kan doen, maar dis wat die Here wil hê. Hy wil nie hê jy moet alles dra nie. Hy wil dit vir jou dra! Jy moet net laat los!

Gebed: Here, U is goed! Ek weet ek kan 100% op U vertrou en weet ek sal nie val nie. Dankie vir U liefde. Amen.

Uitdaging: As jy sukkel om op God te vertrou, vra ‘n vriend of iemand wie jy vertrou om saam met jou te bid en te vertrou dat jy gemaklik sal wees om oor te gee om op God te vertrou.