What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Laat Jesus jou wys hoe om te lewe

Matteus 11:28-30

Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer … Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef … as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.

Daar is baie dinge wat God weet wat selfs die slimste mense op aarde maar sukkel om uit te figure. Een van daardie dinge is om só te leef dat die lewe regtig sin maak. Hierdie kosbare inligting is nie so ingewikkeld nie, maar dit is so anders as wat mense in die wêreld die lewe probeer aanpak, dat ons die antwoorde net by God kan kry.

Jesus wil graag vir jou oor die lewe leer. Hy praat met ons op baie verskillende maniere. Van die kleinste kindjie tot die oudste oupa kan Sy stem hoor. Al wat Hy vra, is dat jy na Hom moet luister.

Een van die maniere waarop Hy met ons praat, is deur die Bybel. ‘n Mens kan lees wat in die Bybel staan en niks maak vir jou sin nie, en dan skielik, een dag voel jy hoe dit wat jy lees jou hart aanraak. Dit voel of God net met jou praat. Dit is die werk van die Heilige Gees. As ons Hom vra en Hom toelaat, breek Hy die betekenis van die Bybel vir ‘n mens oop. Dit is asof Hy ons Wifi aanskakel om God se stem te kan hoor.

‘n Ander baie belangrike stap wat nodig is as ons regtig wil hê Jesus moet ons lewens verander, is om gehoorsaam te wees aan dit wat ons hoor Hy vir ons sê. As ons nie bereid is om dit te doen nie, kan ons mos nie sê ons volg Jesus nie. Ons moet almal verander om meer soos Jesus te wees.

Laat Jesus jou wys hoe om te lewe!

Gebed: Jesus, wys my asseblief hoe om te lewe. Ek wil U volg! Maak my vol van U Gees sodat ek U woorde kan verstaan.

Uitdaging: Gaan lees vandag die Bybel met die verwagting dat God iets vir jou wil sê. Lees tot jy iets raaklees wat vir jou uitstaan of wat jou hart aanraak. Skryf dit neer. Vra vir God wat Hy vir jou daardeur wil sê en wat jy moet doen. Gaan doen dit!