What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Laat God se liefde deur jou vloei

1 Korintiërs 13:2

Sê nou … (ek het) die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, is ek vir die Here ‘n nul op ‘n kontrak.

Stel jou voor: ‘n Verlate eiland. Net jy en die son en die see, met alles wat jou gelukkig maak tot jou beskikking. Geen verantwoordelikhede nie. Geen persoon wat jou uitdaag nie. Net jy en die natuur. Wie het nie al hierdie droom gehad om net weg te kom van alles en almal wat jou so irriteer of ontstel nie?

Dit mag vir ons dalk wonderlik klink, maar dit is glad nie God se plan vir ons nie. Dan sou jy volgens hierdie Bybelvers ook seker so goed soos ‘n nul op ‘n kontrak wees. God wil hê dat ons in verhoudings met ander mense moet wees. ‘n Groot deel hiervan is waarskynlik om ons te vorm en te help om te leer om elke dag meer en meer aan onsself en ons eie selfsugtige begeertes te sterf.

‘n Ander deel is die plan wat Hy vir ons elkeen het om die kanaal te wees waardeur Hy Sy liefde vir ander mense kan wys. Die Bybel sê God het ons “só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.” (Efesiërs 2:10). Dit sal ons beslis nie op ‘n eiland kan regkry nie!

Wanneer jou verhouding met iemand nie lekker is nie, vra God om jou te wys hoe om van jou kant af die regte ding te doen. Vra Hom hoe jy Sy liefde in daardie situasie vir die ander persoon kan wys. Onthou, die lewe gaan nie oor jou nie. Dit gaan daaroor om dit te doen wat God vir jou beplan het.

Ek moet erken. Dit is nie altyd maklik nie! Daarom het ons God so nodig. Spandeer tyd met Hom.

Gebed: Here, ek is maar swak en ander mense het ook foute wat my soms benadeel. Help my om ten spyte van dit alles U liefde te hê en dit uit te deel aan ander. Leer my hoe om reg met ander mense te werk. Dankie dat U my ten spyte van my foute liefhet. Amen.

Uitdaging:  Probeer hierdie week jou liefde vir die mense in jou gesin wys op ‘n manier wat jy dit nog nooit voorheen gedoen het nie.