What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Laat God jou vol maak met sy liefde

Romeine 5:5

Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met Sy liefde. Dit doen Hy deur Sy Heilige Gees wat by ons bly.

Dit is darem maar net makliker om sekere mense lief te hê as ander! Daardie aantreklike ou of meisie by die skool. Jou vriende wat jou deur dik en dun bystaan. Daardie liefde kom maklik! Maar wanneer mense dinge op ‘n ander manier as jy doen of iets doen wat jou irriteer of kwaadmaak, is dit maar moeilik om hulle lief te hê.

God wil hê dat ons deur Sy oë na ander mense moet kyk. Elkeen is iemand wat deur God gemaak is met die potensiaal om lieflik te wees. Ten spyte van al hulle foute waarin ons vaskyk.

Omdat ons net mense is, is dit natuurlik vir ons om eerder mense se foute raak te sien as die mooi wat binne in hulle skuil. Gelukkig het God ‘n oplossing! Sy Heilige Gees kan ons elke dag opvul met Sy liefde sodat ons met sagte oë na mekaar kan kyk.

Jesus moes elke oggend vroeg met God gesels voor Hy Sy dag begin het. Ons behoort dieselfde te doen sodat Sy Gees ons kan vul. Omdat dit so ‘n uitdaging is, word ons liefdesbatterye aan die einde van ‘n dag leeg. Ons is heeltemal afhanklik van God om Sy liefde in ons harte te sit. Hy wil dit doen – ons moet Hom net nooi en toelaat om ons harte te verander.

Laat God jou vol maak met Sy liefde.

Gebed: Heilige Gees, dit is soms moeilik om vir sekere mense lief te wees. Vul my lewe met U liefde en help my om deur U oë na ander mense te kyk. Amen.

Uitdaging: Dink aan iemand wat besonders moeilik vir jou is om lief te hê. Vra God om jou hart teenoor hierdie persoon te verander. Vra God ook om daardie persoon te seën. Hou aan bid daarvoor en kyk of iets verander.