What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Kyk na Jesus en sien vir God

“Wees heilig…” 

“Maar dis onmoontlik!” is die heel eerste gedagte wat in my kop spring wanneer ek ’n uitdagende versie soos hierdie raaklees. Ek is mos soos almal maar net mens. Ek raak partykeer ongeduldig, ek vertel so nou en dan ’n wit leuentjie, maar dis deel van my persoonlikheid. Dis hoe God my gemaak het, nie waar nie? 

Wel, ek weet nie van joune nie, maar my Bybel sê iets heeltemal anders. In 1 Petrus 1:16 herinner Petrus ons aan daardie dag toe God vir Sy volk die opdrag gegee het: “Julle moet heilig wees omdat Ek heilig is.” En wat doen God toe? Hy stuur vir ons ’n lewendige voorbeeld. ’n Voorstelling van die leefstyl wat Hy van ons verwag. ’n Sigbare uitbeelding van die onsigbare God — Jesus. In Kolossense 1 sê Paulus: “Deur na Hom te kyk sien ons wie en hoe God is.” 

Wat beteken dit vir my? Dit beteken dat God van my verwag om daarna te streef om te leef soos Jesus op aarde. Om sondaars lief te hê (Mat 9:12), vir die siekes te bid (Mat 9:35) en om bereid te wees om my lewe op te offer vir Sy wil (Joh 10:17).  

Om dinge vir ons nog makliker te maak, het Hy die Heilige Gees gestuur om ons te lei en te bekragtig. Maar hoekom is dit vir ons so moeilik? Dieselfde Gees wat Jesus uit die graf laat opstaan het, leef dan in my (Rom 8:11). Dieselfde Gees deur wie Jesus duisende siektes genees het. Wat is dan die verskil tussen my en Jesus? Perspektief.  

Jesus het geweet dat Hy op die aarde geplaas is vir ’n spesifieke doel (net soos elkeen van ons) en dat dit al is wat saakmaak. Hy het nie omgegee oor wat mense van Hom dink nie. Hy het net gedoen wat Hy Sy Vader sien doen (Joh 5:19).  

Uitdaging: Voordat jy op enigiets reageer, vra jouself: “Wat sou Jesus doen?” 

Gebed: Jesus, ek wil elke dag meer soos U wees. Help my om na die wereld te kyk deur U oë. Amen.