What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Kyk agter jou!

2 Korintiërs 1:4

Hy staan by ons en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het.

Dr. Ron Archer van Australië is ‘n begaafde prediker wat op sy dag 19 toetse vir die Australiese krieketspan gespeel het. Hy het al met presidente soos Clinton, Bush en Obama gesprekke gevoer. Als klink great, maar wat ons ook van Dr Archer moet weet, is dat sy ma ‘n 16-jarige prostituut was toe sy hom verwag het.

Hy het as kind gehakkel en het ‘n baie swaar kinderlewe gehad. Dit was so erg dat Hy op 10-jarige ouderdom probeer het om selfdood te pleeg. Maar God het ’n ander plan vir hom in gedagte gehad …

Vandag sê Dr Archer: “When God brings you through something, you have to reach back and help someone else.”

Sy hele lewe is vandag ‘n getuienis van hoe die Here saam met hom op die swaar paaie gestap het. Nét so kan God ook jóú swaar en pyn neem as jy dit vir Hom gee en Hy kan jou help om dit te gebruik om ook ander te help.

Wanneer ons deur swaar tye gaan, moenie moed verloor nie. Soos God by Jesus was in die moeilike tye, net so is Hy by jou. En soos Jesus die dood oorwin het, net so help Hy ons om weer op te staan.

Kyk agter jou!

Gebed: Jesus, ek kry swaar, maar ek weet dat U alles van swaarkry weet, omdat U self tot aan die kruis gely het. Dankie dat U by my is in al my swaar. Help my om agter my te kyk sodat ek weer iemand kan help wat ook deur dieselfde swaar gaan as ek. Amen.

Uitdaging: Steek jou hand die week uit na iemand naby jou wat swaarkry.