What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Kies God bo ander dinge!

Romeine 6:16

Julle weet mos hoe dit gaan: jy dien die een in wie se diens jy staan. Wat ek bedoel, is dit: as jy in die mag van die sonde is, sal jy aanhou sonde doen. Dan is die dood jou voorland. Maar aan die ander kant, as jy God dien, sal jy doen wat Hy sê. Dan wag die ewige lewe op jou.

Toe ek jonger was, was my ouers baie streng oor die ouderdomsbeperkings van die flieks wat ek gekyk het. Ek het nie te veel van ‘n probleem daarmee gehad nie. Toe ek 12 was, onthou ek nog hoe ek by ‘n vriend se verjaarsdagpartytjie my ma gebel het om uit te vind of ek ‘n fliek kon kyk met ‘n ouderdomsbeperking van 13. Soos ek verwag het, was my ma nie baie gelukkig daaroor nie en sy het op die ou einde nee gesê.

Jy dink dalk dis ‘n dom voorbeeld, maar hoe gereeld sal ons dink dis okay? Ek was amper 13, reg? Waarheid is, soms laat ons sekere dinge toe om ons gedagtes vol te maak wat nooit werklik daar moes kom nie. Dit geld veral vir die flieks/series wat ons kyk en selfs die speletjies wat ons speel. Ons kan so ingetrek word in die stories dat ons amper verslaaf raak daaraan – ten spyte van al die dinge daarin wat nie die Here se goedkeuring sal wegdra nie.

Ons word dikwels vasgevang in hierdie klein ‘grys areas’ (wanneer ons weet dat iets nie regtig goed is nie, maar dit is ‘amper okay’) en uiteindelik kies ons die kant wat ons eintlik weet nie reg is nie. As ons God nie in die klein dingetjies kies nie, wys dit dat ons eintlik ‘n ander meester het. Wie/Wat is jou meester?

Kies God bo ander dinge!

Gebed: Here, U verdien om my eerste keuse te wees! Daar is soveel kere wanneer ek daaraan dink om ander dinge bo U te kies. Help my asseblief in daardie situasies en herinner my dat U aan die einde van die dag my Meester en Here is! … Amen.

Uitdaging: Is daar ‘n grys area in jou lewe waar jy nie vir God eerste kies nie? Maak ‘n punt daarvan om God te kies … al sou dit beteken dat jy by jou vriende ‘uit die loop’ is. Bid dat God jou sal help daarmee. Dit sal ook help as jy met ‘n vriend praat om jou te herinner om God eerste te kies in daardie ding.