What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Keuses!

Matteus 6:24: “Niemand kan vir twee base werk nie. Jy sal lojaal teenoor een wees en die ander een afskeep.”

Daar is die heeltyd goeie en slegte opsies om van te kies. En ons kom almal een of ander tyd by ‘n Kruispad te staan. Dis die dag wanneer ons ons prioriteite agtermekaar moet kry en ‘n keuse moet maak tussen reg en verkeerd, tussen goed en sleg.

Wil ons vir Jesus volg? Soek ons Sy wil vir ons lewe? Is Hy vir ons meer werd as aardse goed en verkeerde maats? Is ons bereid om op te staan vir wat ons glo reg is? Dis ‘n besluit wat elkeen van ons self moet neem!

As ons sou kies om Jesus te volg, kan ons weet dat ons aan die goeie kant is en dat ons tot alles in staat is deur Hom wat aan ons die krag gee. Maar ja, dan sal ons ook meer versoek word en sal ons bereid moet wees om op te staan vir wat reg is!

Dit help nie dat as ons by slegte vriende is, ons maak asof ons soos hulle is en glo soos hulle glo net sodat ons kan inpas nie! Nee wat. Ons moet opstaan vir dit waarin ons glo en ligdraers vir Jesus wees. 

Die Bybel sê ons moet soos lig wees in die donker en duidelik wys aan wie se kant ons is! Filippense 2:15 sê duidelik vir ons: “Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld!”

As ons nie vir Jesus kies nie, kan Hy ook nie van ons die mense maak wat Hy bedoel het ons moet wees nie. Die duiwel wil graag hê dat ons hom moet gehoorsaam, maar die Here trek ons altyd weer na Sy kant toe! Ons moet soos Josua in Josua 24:15 besef dat ons ‘n keuse moet maak: Vir die Here, of teen Hom! Josua het die regte keuse gemaak. Wat van jou?

Uitdaging: Besluit vandag waar jou prioriteite lê! Maak ‘n keuse en wees vandag ‘n ligdraer vir Jesus!

Gebed: Here, ons wil vandag dankie sê dat U ons liefhet en vir ons die krag gee om ons eie keuses te maak! Help ons om ligdraers vir U te wees en dat ander U in ons lewens sal raaksien! Amen.