What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Jy is Spesiaal!

Psalm 139:13: “Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm.”

Sommige mense voel minderwaardig omdat hulle nie altyd alles kan regkry wat ander kan doen nie. Dan laat die duiwel hulle voel asof hulle nie goed genoeg is vir die samelewing nie.

Maar jy moet leer om jouself deur die Here se oë te sien, want dis Hy wat jou gemaak het en God maak nie foute nie. Jy moet onthou dat God elkeen van ons uniek gemaak het en dat Hy jou liefhet net soos jy is. 

Miskien is jy nie atleties nie, maar jy is geseën met die gawe van diensbaarheid. Dalk is jy nie so slim soos sommige van jou vriende nie, maar jy is wel prakties aangelê. Dit kan ook wees dat jy die een of ander gestremdheid het, maar daarby het God jou geseën met die gawe om ander te bemoedig. Moenie jaloers wees op ander se talente nie, maar aanvaar jouself soos wat God jou gemaak het, want vir Hom is jy perfek!

Onthou, God maak nie gemors nie! Die Here wil ook vir jou gebruik om ’n verskil in ander se lewens te maak. Dis hoekom Hy jou gemaak het net soos jy is.

As jy jou lewe in God se hande plaas, kan Hy aan jou lewe betekenis gee. Sy Gees wat in jou woon, kan jou help om só te leef dat jy jouself en almal rondom jou verras. Die Here het jou lief … onthou dit!

Uitdaging: Sit jou hande in God se hande sodat Hy jou kan wys hoe spesiaal jy is.

Gebed: Hemelse Vader, help my asb dat ek myself sal aanvaar soos wat U my gemaak het. Amen.