What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Jy is so kosbaar vir God!

Lukas 12:7

Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God.

Ek het al hordes kere in my lewe gebid vir dinge wat net nooit gebeur het nie. Sommige dinge bid ek al jare lank oor en nog steeds klink dit soms soos doodse stilte van God se kant af. Dis vir my maklik om te sit en wonder of God regtig daar is, of Hy ooit omgee, of Hy eers luister.

Ek dink soms ons verstaan nie hoe God werk nie en ek dink ons verstaan nie altyd Sy planne nie. Maybe is dit waarvoor ons bid net nie deel van God se beste plan vir ons lewe nie. Maar een ding waarvan ons seker kan wees, is dat God ons nooit los nie. God het Sy eie Seun mens laat word. Laat dit insink. As God mens geword het, hoekom sal Hy ons ooit los?

Die Bybel noem vir Jesus ‘Immanuel’. Dit beteken God met ons. Ek en jy is so kosbaar vir God. God ken elke klein deeltjie van jou (selfs die dele wat jy soms probeer wegsteek) en ek dink daarom kan ons bly wees. Ons kan bly wees dat God by ons stick omdat Hy ons liefhet en vir ons omgee, selfs al lyk Sy planne anders as ons s’n.

Jy is so kosbaar vir God!

Gebed: Here, dankie dat U my baie liefhet en so baie vir my omgee. Help my om aan te hou vertrou as U ver weg voel. Help my om elke keer net weer Jesus raak te sien in my lewe … Amen.

Uitdaging: Maak seker om vandag die volle Skrifgedeelte te lees in Lukas 12:4-12.