What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Jy is deel van Jesus se squad!

Romeine 6:3-4

3Julle onthou wat by die doop gebeur het, of hoe? Toe ons in die Naam van Christus Jesus gedoop is, het ons deel geword van alles wat met Hom by die kruis gebeur het, van sy dood af tot by sy opstanding. 4As dit dan waar is dat ons saam met Jesus die dood binnegestap het, is dit net so waar dat ons saam met Hom lewend anderkant uitgekom het toe God Hom met sy groot krag en heerlikheid uit die dood laat opstaan het. Daarom kan ons ook nou op ’n nuwe manier leef.

Ek het al in my verlede soveel foute gemaak. Ek het nie altyd vir Jesus gevolg soos ek vandag doen nie en ek is definitief nog steeds besig om elke dag te groei. Ons foute maak ons (en ander mense) seer, en partykeer kan ons voel soos groot losers, maar dis nie waar nie. Ons sonde moet nie by ons spook nie.

Omdat Jesus ons verteenwoordig, beteken dit dat wanneer God na ons kyk, Hy vir Jesus raaksien! Dis letterlik die coolste ding ooit. Jesus is en was en sal vir altyd perfek wees  en wanneer ons vir Jesus as ons Verlosser aangeneem het, sien God ook vir ons as sondeloos.

Ons is deel van Sy storie, deel van die oorwinning oor sondes,  deel van Sy ewige lewe en deel van Sy squad. God kyk na ons en sê “Hy is genoeg” en “Sy is genoeg”. Ons hoef nie meer te leef met daai sonde in ons gedagtes nie, ons kan kies om op ‘n heeltemal nuwe manier te leef!

Jy is deel van Jesus se squad!

Gebed: Jesus, dankie dat U in my plek kom staan het. Help my om my lewe so naby aan U liefde te leef dat almal dit kan raaksien. Mag die manier waarop ek lewe, ander mense ook oortuig van U liefde … Amen.

Uitdaging: Vat vandag die eerste stappie om vriende te maak met iemand wat nog nie Jesus se liefde ervaar het nie. Laat jou lewe getuig dat jy vry is.