What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Jou identiteit is kind van God

Galasiers 3:26-17

26…Nee, nou is julle almal God se kinders omdat julle in Christus Jesus glo… 27Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van Sy nuwe familie. Binne hierdie familie maak dit glad nie saak aan watter volk jy behoort nie. Of wat jou status of jou geslag is nie. Hier gaan dit nie daaroor of jy ’n Jood of ’n Griek is nie, en of jy ’n slaaf of ’n baas is nie, en of jy ’n man of ’n vrou is nie. Binne Sy familie is almal gelyk. Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus.

As jy na enigiemand in die wêreld gaan kyk, wat is van die eerste dinge wat jy gaan oplet? Jy mag dalk na iemand kyk en sien dat hulle ‘n man of ‘n vrou is. Jy mag dalk sien of hulle kort of lank is. Jy mag dalk die kleur van hulle vel raaksien. Jy mag dalk selfs kan skat waar hulle vandaan kom.

Al hierdie dinge is uiterlike dinge. Ons lewe in ‘n wêreld waar mense so gefokus is op die uiterlike – hoe jy lyk. Meeste dating Apps gaan oor of jy dink die persoon op jou skerm is hot of nie. Dit word ‘n swipe links, swipe regs wêreld waar ons net oordeel as gevolg van die uiterlike.

Jesus gooi dinge darem op hulle kop. Vir Hom gaan dit nie oor hoe jy lyk, jou ras, jou geslag of jou lengte nie. Ons identiteit lê daarin dat ons familie van God geword het. Ons is kinders van God. Dis wie ons is en geen ander ding moet ons identiteit bepaal nie.

Jou identiteit is nie in die uiterlike nie. Jou identiteit is kind van God.

Gebed: Here, dankie dat U my identiteit bepaal en nie die wêreld nie. Herinner my elke dag dat ek aan U behoort … Amen.

Uitdaging: Maak kontak met iemand wat jy vermy het as gevolg van hoe hulle lyk. Probeer iets nuuts oor daardie persoon uitvind.