What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Jou denke beïnvloed jou toekoms.

Spreuke 4:20-23

Jong vriend, luister baie mooi na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my lewenswysheid. Vergeet dit nie ’n enkele oomblik nie. Hou jou oë altyd op die spreuke se lewensreëls. Dink heeltyd daaroor na. Wie dit sy eie maak, sal vreugde ervaar, soveel dat dit selfs sy liggaam beter sal laat voel. Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed.

Dit gebeur met almal. Jy leer hard vir ‘n eksamen en sodra jy die vraestel kry, slaan jy ‘n blank. Jou ouers is te streng en jy wens partykeer hulle wil ophou baklei met jou en net verdwyn. Jy sukkel om te konsentreer in die klas, want jou gedagtes gaan heeltyd terug na die ou of meisie op wie jy ‘n crush het.

Dit is moeilik om jou gedagtes te beheer. Hoekom ons ook eerder dinge dink as sê is bloot die feit dat niemand kan hoor wat ons dink nie. Maar die teks van Spreuke waarsku ons dat ons moet oppas vir dit waarna ons gedagtes lei. Maar dan sê die skrywer ook as ons luister na hierdie lewenswysheid, sal ons nooit vashaak by verkeerde gedagtes nie.

Ons gedagtes bepaal ons aksies en ons aksies het ‘n invloed op ons toekoms. Hoe beheer ons ons gedagtes? Deur dit op God gerig te hou.

Maak God die middelpunt van jou gedagtes.

Gebed: Here, U ken my gedagtes en U kan dwarsdeur my sien. Help my om my gedagtes skoon te hou, sodat dit ook meer gerig is op dit wat U van my verwag. Amen.

Uitdaging: Vra vir die Here om jou te help om elke verkeerde gedagte wat by jou opkom, te vervang met een wat Sy goedkeuring wegdra.