What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Hou aan, God maak alles perfek!

Johannes 15:4-5

4Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby aan julle bly  - soos ’n druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies. ’n Takkie kan mos nie druiwe dra as dit eenkant lê en nie aan die druiwestok vas is nie. Net so het julle My nodig om ’n goeie, vrugbare lewe te kan lei. 5“Stel julle dit goed voor: Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies. Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie. Net so beteken julle ook niks sonder My nie. Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugbare lewe kan lei.

Baie mense neem minstens eenkeer per dag ‘n selfie en gaan post dit sodat ander daarop kan kommentaar lewer of selfs net om te wys waarheen hulle oppad is. Jy word geterg, want jou naam wat jou ouers vir jou gegee het voel vir jou so outyds soos ‘n familienaam wat oorgedra word van generasie tot generasie. Jou ore staan te bak of jou tande voel te skeef en jy lyk nie eers soos jou ma of pa nie … dan begin die vrae, want hoekom lyk ek anders?

Het jy al gewonder oor wie jy regtig is? Hoekom lyk ek soos wat ek lyk? Johannes sê in die teks dat ons identiteit in Jesus gevestig is. En wanneer ons in Hom gevestig is, dra ons vrug wat van Hom af kom. Deur die vrug wat ons dra sal mense ook sien dat ons na die beeld van God geskape is.

Partykeer is dit nie maklik om in die spieël te kyk en positief te bly en met oortuiging te sê: “Ek is perfek geskape, want ek is na God se Beeld geskape” nie. Maar hoe meer jy glo wat God van jou sê, hoe makliker gaan dit raak om God al meer in jouself raak te sien.

Hou aan, God maak alles perfek!

Gebed: Here God, ek voel baie keer dat ek te lelik is en ek sukkel om my identiteit te vind in die lewe. Help my om my identiteit in U te vind.

Uitdaging: Gaan staan elke dag voor die spieël en soek een goeie eienskap in jou wat spesiaal is en wat jou aan God herinner.