What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Het jy vanoggend in die spieël gekyk?

Jakobus 1:23 Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is.

Ons doen gereeld dinge net uit gewoonte. Soos om in die spieël te kyk voordat ons iewers heen gaan.

Om soggens Bybel te lees, kan maklik ook net ’n gewoonte raak. Min van ons kan teen 11h00 sê wat ons vroegoggend gelees of gehoor het.

Om elke oggend Bybel te lees en te bid, is ’n goeie gewoonte, maar dit mag nooit nét ’n gewoonte bly nie. Ons het ook ’n rol om te speel. Ons moenie net daarna luister nie, ons moet deur die Here se woorde beweeg en verander word.

Die Bybel is soos ‘n spieël waarin ons kyk. Ons sien dinge wat uit plek uit is en ons kry ook raad oor hoe om als weer in plek te kry.

Ons het weer vanoggend in die spieël gekyk. Wat nou? Is daar iets wat nie lekker lyk nie? Sien jy kans om iets daaraan te doen sodat jy aan Jesus gehoorsaam kan bly?

Kom ons laat die Heilige Gees toe om ons dwarsdeur die dag te herinner aan dit wat ons by die Here geleer het en kom ons gee die Heilige Gees toestemming om ons te verander sodat ons Christus se beeld al hoe duideliker kan weerkaats in ’n donker wêreld.

Uitdaging: Is daar iets uit plek in jou lewe? Komaan! Maak dit reg.

Gebed: Vader, ons bid dat U Heilige Gees ons dwarsdeur die dag sal herinner aan dit wat U vir ons leer sodat ons ons lewe daarvolgens kan aanpas. Amen.