What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God wil daar wees vir jou

Jesaja 42:3 Hy sal nie iemand wat alreeds op sy knieë is, in die grond trap nie. Hy sal nie iemand se laaste bietjie hoop vernietig nie. Hy sal eerlik wees wanneer hy sê wat reg is.

Elke mens op aarde beleef ‘n dag en tyd wanneer hulle hartseer is. Mense doen dinge wat voel soos ‘n steek in die hart. Dinge loop skeef en dit voel soms of die hele wêreld uitmekaar val. Baie van ons dink ons moet altyd sterk kan wees en wanneer dinge vir ons swaar raak, voel ons sommer ook sleg oor onsself. Ons voel dan maklik hulpeloos en alleen.

In die Psalms lees ons hoe Dawid – ‘n man so na God se hart deur baie moeilike tye gegaan het en vir God vertel het presies hoe hartseer hy daaroor voel. Ons lees ook in die Bybel dat daar dinge gebeur het wat selfs Jesus laat huil het. Jesus weet hoe jy voel. Hy weet ook alles – daar is nie ‘n traan wat val waarvan God nie bewus is nie.

God gooi nie vir ons ‘n koue skouer wanneer ons deur moeilike tye gaan nie. Hy verstaan so goed as ons harte breek, want Hy het ons gemaak. Dit is dan wanneer ons in Sy oop arms kan hardloop en ons hart voor Hom uithuil. Hy wil daar wees vir ons, dwarsdeur alles wat moeilik is. Hy wil ons hart help bedaar waar ons nie voel of die hartseer gaan weggaan nie. Hy wil ons ophelp en die krag gee om dan weer op te staan en die moed gee om aan te gaan met dit wat ons moet doen.

God is ons liefdevolle Vader wat vir ons nuwe hoop en nuwe lewe wil gee. Hy sal jou nooit, ooit alleen los nie. Hou jou oë op Hom.

God wil daar wees vir jou.

Gebed: Vader, ek voel soms so hulpeloos en alleen. Dankie dat U my sterk Vader is wat graag naby aan my wil wees, ook wanneer dit baie sleg gaan. Amen.

Uitdaging: Lees Psalm 42 en 43. Probeer jou eie Psalm skryf en wees eerlik oor hoe jy voel. Vertrou dan ook soos Dawid dat God jou weer sal help om te lag.