What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God weet van jou swaar

Psalm 55 vers 23: “Los jou bekommernisse in die Here se hand! Hy sal vir jou sorg!

Hy sal niemand wat Hom dien, ooit in die steek laat nie.”

Wanneer alles vir ons net te veel word en dit voel asof die wêreld om ons vergaan, moet ons altyd onthou dat God by ons is en dat Hy nooit iets oor ons pad sal stuur wat Hy dink ons nie kan hanteer nie.

So ’n ruk gelede het niks vir my sin gemaak nie! Daar was probleme met my gesondheid, die finansies wou nie klop nie, die vrieskas en die koskas was leeg en ek het net nie moed gehad nie.

Ek het toe soos gewoonlik gebid en vir die Here vertel van al my toekomsvrese en van my kommer en sorge. Ek het vir God gevra om oor te neem en my deur hierdie krisis te lei. Ek het vir Hom gevra om Sy teenwoordigheid aan my bekend te maak en om Sy Wil te laat geskied.

Later die dag het ek ‘n boodskap van my Christen vriendin ontvang. Dit is wat die boodskap gesê het: “Gee jou vrese vir My”, sê die Here. Daar is so baie vrese wat by jou spook …  vrese oor die toekoms, vrese oor jou finansies, vrese oor jou gesondheid en oor jou familie. Jy het nou genoeg gevrees. Dit het al soveel van jou blydskap en drome gesteel. Dit verswak jou gesondheid en besoedel jou denke. Vervang nou jou vrese met kinderlike geloof in My. Daar is niks wat My Eer soos wanneer jy My glo nie, sê die Here. Jou wiel sal draai! Ek sal jou beloon! My genade vir jou is groter as enige krisis! Begin om nou reeds vir My dankie te sê vir My goedheid en guns wat Ek oor jou lewe gaan los!”

My vriendin was nie bewus van my probleme nie, so sy kon nie hierdie boodskap self uitgedink het nie. Ons dien ‘n awesome God wat luister as Sy kinders met Hom praat.

Uitdaging: Vertel aan jou vriende wat God alles gedurende die week vir jou gedoen het en bemoedig ten minste een persoon waarvan jy bewus is wat swaarkry.

Gebed: Dankie Vader, dat U altyd teenwoordig in ons lewens is. Help ons om soos ’n kind te glo en help ons om altyd te onthou dat ons tot alles in staat is deur U wat ons krag gee. Ons loof en prys U wonderlike Naam. Amen.